Geseënde Nis Geseënde Nis

Geseënde Nis

Publisher Description

Hoe moet skeppergelowiges dink oor ontdekkings soos dié by die Wieg van die Mensdom? En oor ander wetenskaplike getuienis ter stawing van biologiese evolusie? Of oor waarnemings wat daarop dui dat die heelal ongeveer 13.8 biljoen jaar gelede begin het, 'n begin waaraan sommige die naam "die Oerknal" gegee het?
Heelwat voorbeelde van sulke ontdekkings word in hierdie boek beskryf, ontdekkings wat nuwe lig gewerp het op biologiese- en kosmologiese kwessies.
Wat die skeppingsverhale in Genesis betref: dit is nie so dat die Bybel slegs in sy letterlike betekenisse geglo kan word, of anders glad nie geglo kan word nie. Daar bestaan vertolkingsmoontlikhede waarin wetenskap en skeppingsgeloof totaal versoenbaar is en mekaar trouens aanvul.
Hierdie boek is onder meer geskryf om die waarheid van evolusie (alle evolusie, nie net die biologiese soort nie) te help uitdra. 'n Teïstiese beskouing van evolusie en die vertolking van enkele Bybelgedeeltes soos hier voorgestel, gee onder meer erkenning aan die grootsheid van wat ons skeppingsevolusie kan noem. Die boek wil 'n bydrae lewer tot die debat oor die mate waartoe die voorwetenskaplike skeppingsverhale in Genesis op 'n wetenskaplik sinvolle manier vertolk kan word. Byvoorbeeld: Wetenskaplikes het ontdek dat die heelal in vele opsigte "net reg" is vir lewe, iets waaraan Genesis 1 uitdrukking gee deur die skepping by herhaling as "baie goed" te beskryf. Hierdie net-reg-wees van die skepping is deel van wat in hierdie boek die Genesisbeginsel genoem word.
Daar word onder meer stilgestaan by sommige van God se gedagtes (Psalm 139:17 noem sy gedagtes "wonderlik" en "magtig"): die oerknal, ruimtetyd, elektromagnetisme, gravitasie, kwanta, plaattektoniek, genome, ekologiese nisse en evolusie.

Maak die geloof van skeppergelowiges van hulle onwetenskaplike denkers? Die rykheid van die natuur – die Genesisbeginsel – is onder meer herkenbaar in die verskeidenheid van lewensvorme op aarde. Die feit dat daar verskillende spesies is, is al deur 'n Nobelpryswenner teruggevoer na die toestande wat net ná die oerknal geheers het.
Maar waarom het juis dáárdie toestande geheers, so gunstig vir uiteindelike lewe en verskeidenheid? Waarom is daar spesies, en waarom so baie van hulle? Getuig dit van die een of ander goddelike doel? Volgens die eerste hoofstuk van Genesis is die antwoord hierop: "Ja!" Tog glo nie-skeppergelowiges in 'n doellose heelal, 'n "betekenislose dans van atome" in die woorde van C.S. Lewis. Die fisikus Paul Davies noem hierdie siening dié van die "absurde heelal".
Francis Collins (die eertydse hoof van die internasionale menslike genoomprojek) kies teen absurditeit wanneer hy sê dat die idee van 'n skepper-God nie bots met dit wat deur die wetenskap aan die lig gebring is nie.

In hierdie boek word die woord "nis" in 'n baie wye, inklusiewe sin gebruik. Dit dui op 'n stel omstandighede en/of 'n verskynsel wat "net reg" is, geseënd is, nes die manier waarop die ekologiese nis van 'n dier- of plantspesie net reg is vir daardie spesie. Die heelal is self 'n nis vir lewe omdat dit net reg is daarvoor.
Nisse is nie bedoel om leeg te wees nie. Elke leë nis sal waarskynlik vroeër of later gevul word – dit blyk onder meer duidelik uit die geskiedenis van lewe op aarde oor bykans vier biljoen jaar. Ook hierdie geskiedenis word kortliks in hierdie boek vertel.
Maar allerlei "nisse" onder allerlei name word in verskeie wetenskappe bestudeer. En ook na hulle word daar in die boek gekyk – met die oog van 'n wetenskaplike en ook met die geloofsoog.

GENRE
Science & Nature
RELEASED
2015
4 May
LANGUAGE
AF
Afrikaans
LENGTH
292
Pages
PUBLISHER
Chris Venter
SELLER
Draft2Digital, LLC
SIZE
1.5
MB